Gaan na inhoud

Bladwisselend

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kaal bome wat hul blare verloor het

In plantkunde beteken bladwisselend ’n plant wat sy blare in die winter of droë seisoen verloor, in teenstelling met immergroen plante, wat hul blare dwarsdeur die jaar behou. Daar is talle soorte bladwisselende plante – bome, struike en ander.

Die meeste plante rus in die winter. Gedurende die lente en somer is die verskillende dele van die plant baie besig: benewens bedrywighede soos respirasie (“asemhaling"), neem hulle voedsel en water uit die grond op en vervaardig self ook voedsel (soos suiker) in hul blare, wat dan weer gebruik word om die plant te laat groei, blom en vrugte en sade vorm. In die herfs begin hierdie bedrywighede afneem.

Wanneer die winter met sy koue weer aanbreek, bereik die aktiwiteite van die plant 'n laagtepunt. Eenjarige plante gaan dan gewoonlik dood en oorleef die winter in die vorm van saad. Baie meerjarige plante verloor hul blare, of hulle bogrondse dele ryp dood. Hierdie meerjarige plante oorleef die winter deurdat die knoppe wat hulle dra in die winter rus, maar in die lente weer uitgroei om nuwe lote met blare, blomme en vrugte te vorm.

Die rus van plante is dus ʼn manier waarop hulle die koue winter kan oorleef. Watter veranderinge merk ons op in ʼn plant wat rus? Een van die belangrikste bedrywighede wat tydens die winter 'n laagtepunt bereik is fotosintese. Dit is die proses waardeur die blare die energie van sonlig gebruik om voedsel soos suiker en stysel uit koolsuurgas en water (wat hulle onderskeidelik uit die lug en die grond opneem) op te bou. Hiervoor is die groen kleurstof van die blare, chlorofil, noodsaaklik.

Wanneer die blare egter in die herfs doodgaan, verkleur en afval, gaan die chlorofil ook tot niet en kan fotosintese nie meer plaasvind nie. In die herfs vind mens dat plante begin om voedingstowwe op te berg. Dit geld nie net vir stowwe soos suiker en stysel nie, maar ook vir minerale soute. Sommige minerale, soos stikstof, fosfor, kalium en magnesium, kom in oplosbare vorm (as ione, of as deel van oplosbare verbindings) in die blare voor.

Voor die blare afval, word hierdie stowwe deur die plant uit die blare onttrek en beweeg hulle deur die blaarnerwe na die stam waar hulle, tesame met stysel en ander verbindings, tot die daaropvolgende lente in die murgselle van die stam opgeberg word. Ander stowwe soos kalsium vorm egter 'n vaste deel van die blaarstruktuur, sodat hulle nie oplosbaar is nie en dus in die blare agterbly wanneer hulle afval. Sekere kruidagtige plante, soos aartappels en beet, het weer ondergrondse knolle of stoorwortels waarin hulle voedsel kan opberg.

In 'n sekere stadium merk ons dat die blare van plante begin afval. Teen hierdie tyd is hulle gewoonlik geel of bruin gekleur, en is die bruikbare voedingstowwe na die res van die plant oorgebring. Nou vorm daar gewoonlik ʼn afsnydingslaag in die deel van die blaarsteel wat aan die stingel vas is. In hierdie laag of streek gaan die selle maklik los vanmekaar, sodat aanraking of 'n ligte wind die blare kan laat afval. Hierdie afsnydingslaag vorm nou 'n beskerming oor die wond of litteken waar die blaar afgeval het.

Die plant is nou sonder blare, maar besit ʼn goeie voorraad opgebergde voedingstowwe. Die plant word teen die koue beskerm deur sy bas, wat hoofsaaklik uit kurk bestaan en 'n swak geleier van hitte is. Dit kan ook as beskerming teen besmetting deur bakterieë en swamme dien. Die bas van kleiner takkies is gewoonlik nie so dig nie en bevat 'n aantal klein asemporieë of lentiselle, waardeur lug, wat vir die asemhaling van die lewende weefsels noodsaaklik is, binnegelaat kan word. Mens kan hierdie lentiselle, wat in werklikheid uit hopies losgepakte kurkagtige selle bestaan, as klein bruin knoppies met die blote oog op die takkies onderskei.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.