Curriebeker
- Hierdie artikel handel oor die Rugbykompetisie in Suid-Afrika. Vir die voorheen gelyknamige Krieketkompetisie in Suid-Afrika, sien Sunfoilreeks.
Curriebeker | |
2025 Curriebeker Premierafdeling | |
Die Curriebeker se kenteken
| |
Sportsoort | Rugby |
---|---|
Gestig | 1891 |
Eienaar | Suid-Afrikaanse Rugbyunie |
Inwydingseisoen | 1892 |
Deelnemende lande | Suid-Afrika |
Divisies | Premierafdeling Eerste afdeling |
Aantal spanne | Premierafdeling: 9 Eerste afdeling: 8 |
Mees onlangse kampioen | Natalse Haaie (2024) |
Verwante kompetisies | Rugby-uitdaagreeks |
Borg(e) | Carling |
Die Curriebekertoernooi (tot 2015 ook bekend as die ABSA Curriebeker weens borgskapvereistes) is Suid-Afrika se oudste en belangrikste plaaslike rugbykompetisie wat agt provinsies of streke binne ’n provinsie verteenwoordig. Hoewel dit die belangrikste plaaslike kompetisie is, ding Suid-Afrikaanse spanne ook jaarliks in die Verenigde Rugbykampioenskap mee.[1]
Die Curriebeker dateer so ver terug as 1889 en is een van die oudste rugbykompetisies ter wêreld. Die toernooi word as die hoeksteen van Suid-Afrika se rugby-erfenis beskou. Tussen 1892 en 1966 is daar op ongereelde grondslag om die beker meegeding, maar sedert 1968 word 'n wenner jaarliks bepaal. Dié goue trofee is steeds die hoogste prys in plaaslike Suid-Afrikaanse rugby.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die kompetisie het sy nederige begin as ’n interdorp-kompetisie in 1884 gehad, maar toe die Suid-Afrikaanse Rugbyraad in 1889 gestig is, is besluit om ’n nasionale kompetisie te organiseer wat spanne van al die groot unies sou insluit. Die unies wat deelgeneem het was die Westelike Provinsie, Griekwaland-Wes, Transvaal en Oostelike Provinsie. Die eerste toernooi is in Kimberley gehou en is deur die Westelike Provinsie gewen. Die wenprys was ’n silwer beker wat geskenk is deur die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, wat nou in die SA Rugbymuseum in Kaapstad te sien is.
Die huidige goue beker is in 1892 in gebruik geneem. Sir Donald Currie, die skeepsmagnaat, het dit aan W.E. Maclagan, kaptein van die eerste toerspan uit die Britse Eilande na Suid-Afrika, toevertrou op die vooraand van hulle vertrek na Suid-Afrika. Maclagan sou die trofee aan die eerste span toeken wat die toerspan kon klop. Daarna moes dit ’n wisseltrofee vir die Suid-Afrikaanse provinsiale kampioenspan word. Die toerspan het al sy wedstryde gewen, maar nogtans die trofee oorhandig aan Griekwaland-Wes, wat met net 3-0 verloor het. Sir Donald het ook trofeë aan verskeie ander Suid-Afrikaanse sportsoorte geskenk, insluitende krieket, sokker, swem en waterpolo, maar net die rugbytoernooi het onder die oorspronklike naam voortgegaan.
Terwyl plaaslike unies reeds van 1892 om die Curriebeker meegeding het, het dit ’n paar dekades geduur voordat ’n amptelike kompetisie tot stand gebring is. Ná jare van geleentheidstoernooie wat deur die Westelike Provinsie oorheers is, het Suid-Afrika se belangrikste kompetisie met groot verwagting in 1968 afgeskop. In daardie jaar het Noord-Transvaal, onder leiding van die legendariese Frik du Preez, Transvaal met 16-3 in die eindronde gewen, wat ’n era van algehele oorheersing deur die Pretorianers ingelyf het waarin hulle die Curriebeker 16 keer gewen het en drie keer die titel gedeel het. Hierdie besonderse prestasie sou waarskynlik nie moontlik gewees het sonder die kundigheid van Naas Botha nie. Hy kon die spel meesterlik beheer met uitmuntende taktiese bewustheid deur ’n loopbaan wat oor drie dekades gestrek het. Botha kon manalleen opponerende spanne op hul knieë dwing en hy het in 1987 al Noord-Transvaal se 24 punte teenoor Transvaal se 18 in die eindronde aangeteken.
Sedertdien het die Curriebeker ’n jaarlikse kompetisie geword met net een span wat Noord-Transvaal se oorheersing kon teenstaan – die Westelike Provinsie. Feesvierings het in Kaapstad uitgebreek toe die Westelike Provinsie Noord-Transvaal met 24-7 in die eindronde van 1982 gewen het, wat die Westelike Provinsie se eie goue era ingelyf het. Curriebekerhelde soos Faffa Knoetze, Calla Scholtz en die stoomroller-vleuel Neil Burger het verseker dat die Beker vir vyf jaar in Kaapstad gebly het voordat dit weer terug noorde toe is.
Met die keer van die dekade is Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners getrakteer op twee van die mees onvergeetlike Curriebeker-eindrondes. In 1989 het die vleuel Carel du Plessis ’n drie in die doodsnikke van die wedstryd gedruk om te verseker dat die Beker met Noord-Transvaal gedeel is. Die telling was 16-elk. Die daaropvolgende jaar was die gevoel dat Noord-Transvaal net moes opdaag om teen Natal te wen. Die piesangboere het egter ’n opskudding veroorsaak toe hulle, geïnspireer deur die losskakel Joel Stransky, die wedstryd met 18-12 gewen het. Die 1990’s het ook gesien hoe Natal asook Transvaal, onder kapteinskap van Francois Pienaar sterker word, maar sedert Suid-Afrika se hertoelating tot internasionale sport in 1992 het die belangrikheid van die Curriebeker stelselmatig afgeneem.
Deesdae is die kompetisie in die skadu van die Verenigde Rugbykampioenskap en die Rugbykampioenskap in terme van belangrikheid vir Suid-Afrika se topspelers. ’n Mens hoef egter net te kyk na die glimlagte op spelers se gesigte wanneer hulle die Curriebeker wen, om te bevestig dat die Curriebeker steeds ’n spesiale plek het in die harte van Suid-Afrikaanse rugbyspelers en -toeskouers.
Vir die 2013-seisoen was die prysgeld soos volg bepaal:
- Wenner van die premierafdeling: R1,8 miljoen
- Naaswenner van die premierafdeling: R1,2 miljoen
- Wenner van die eerste afdeling: R1 miljoen
- Naaswenner van die eerste afdeling: R500 000
- Wenner van die o/21 A-afdeling: R200 000
- Naaswenner van die o/21 A-afdeling: R50 000
- Wenner van die o/19 A-afdeling: R200 000
- Naaswenner van die o/19 A-afdeling: R50 000
In 2016 en 2017 het die Welwitschias van Namibië aan die Curriebeker deelgeneem.[2][3] In 2019 het die Argentynse Jaguares XV aan die Curriebeker deelgeneem. In 2020 het die Georgiese span Tbilisi Caucasians aan die Curriebeker deelgeneem.[4] In 2022 het die Georgiese span Black Lions, die Keniaanse span Simbas en die Zimbabwiese span Zimbabwe Goshawks in die eerste afdeling meegeding.[5] In 2023 het die Namibiese Welwitschias, die Zimbabwiese Goshawks, die Keniaanse Simbas en die Amerikaans-Meksikaanse San Clemente Rhinos aan die eerste afdeling deelgeneem.[6]
Trofee
[wysig | wysig bron]Die trofee waarom jaarliks meegeding word is deur sir Donald Currie, eienaar van die Union-Castle-Redery, aan die toerspan van die Britse Eilande geskenk. Sy instruksies aan die span was om die trofee te oorhandig aan die span wat die beste wedstryd teen die besoekers gespeel het, en na ’n moedige stryd het Griekwaland-Wes die eerste ontvangers van die Curriebeker geword. Die trofee is vandag nog die heilige graal van Suid-Afrikaanse rugby.
Aan die einde van 2012 is die trofee na Garrard van Londen, die Kroonjuweliers en oorspronklike vervaardigers, gestuur om gerestoureer te word. Die trofee, wat in 1875 vervaardig is, se handvatsel is in ere herstel en die trofee het ook weer sy goue glans aangeneem.[7]
Spanne
[wysig | wysig bron]Suid-Afrika is tans verdeel in 14 unies. Vier trek spelers van ’n hele provinsie:
- Griekwas – Noord-Kaap (tuiswedstryde in Kimberley)
- Luiperds – Noordwes (tuiswedstryde in Potchefstroom en Rustenburg)
- Natalse Haaie – KwaZulu-Natal (tuiswedstryde in Durban)
- Pumas – Mpumalanga (tuiswedstryde in Nelspruit)
Daar is twee unies in die Oos-Kaap:
- Grens Bulldogs – oos (tuiswedstryde in Oos-Londen)
- Oostelike Provinsie – wes (tuiswedstryde in Gqeberha)
en ook in die Vrystaat:
- Vrystaat Cheetahs – sentraal en suid (tuiswedstryde in Bloemfontein)
- Griffons – noord en wes (tuiswedstryde in Welkom)
Daar is drie unies in die Wes-Kaap:
- Boland Kavaliers – noord (tuiswedstryde in Wellington)
- SWD Arende – oos (tuiswedstryde in George)
- Westelike Provinsie – Kaapstad Metropolitaanse gebied (tuiswedstryde in Kaapstad)
Gauteng het twee unies wat eksklusief van dele van daardie provinsie spelers kry:
- Valke – die Oos-Rand en munisipaliteite ten ooste en suide van Johannesburg (tuiswedstryde in Kemptonpark)
- Goue Leeus – Johannesburg en munisipaliteite ten weste (tuiswedstryde in Johannesburg)
Laastens is daar een unie wat gedeeltelik spelers van Gauteng asook ’n hele provinsie kry:
- Blou Bulle – Pretoria, die twee Gauteng-munisipaliteite ten ooste en Limpopo (tuiswedstryde in Pretoria)
Uitslae
[wysig | wysig bron]1 . Westelike Provinsie en Transvaal het nie deelgeneem nie.
2 . Beslis oor twee seisoene.
3 . Natal is hernoem na die Natalse Haaie.
4 . Transvaal is hernoem na die Gauteng Leeus; hulle is ook bekend as die Goue Leeus.
5 . Oranje-Vrystaat is hernoem na die Vrystaat Cheetahs.
6 . Noord-Transvaal is hernoem na die Blou Bulle.
7 . Vrystaat Cheetahs en die Blou Bulle het gelykop gespeel en die titel gedeel.
8 . As gevolg van die Covid-19-pandemie beslis tussen November en Januarie.
9 . Nadat die telling gelykop was, is ekstra tyd aan die einde van die wedstryd toegelaat.
Algehele wenners (tot en met 2024)
[wysig | wysig bron]Span | Kampioene | Mees onlangse wen | |
---|---|---|---|
Westelike Provinsie | 34 | Vier keer gedeel | 2017 |
Blou Bulle | 25 | Vier keer gedeel | 2021 |
Goue Leeus | 11 | Een keer gedeel | 2015 |
Natalse Haaie | 9 | 2024 | |
Vrystaat Cheetahs | 7 | Een keer gedeel | 2023 |
Griekwas | 3 | 1970 | |
Grens Bulldogs | 2 | Twee keer gedeel | 1934 |
Pumas | 1 | 2022 |
Sedert die Curriebeker in 1968 ’n jaarlikse toernooi geword het, lyk dit soos volg:
Span | Kampioene | Mees onlangse wen | |
---|---|---|---|
Blou Bulle | 23 | Vier keer gedeel | 2021 |
Westelike Provinsie | 13 | Twee keer gedeel | 2017 |
Natalse Haaie | 9 | 2024 | |
Goue Leeus | 7 | Een keer gedeel | 2015 |
Vrystaat Cheetahs | 7 | Een keer gedeel | 2023 |
Griekwas | 1 | 1970 | |
Pumas | 1 | 2022 |
Rekords en Statistiek
[wysig | wysig bron]- Meeste loopbaanwedstryde
Naam | Span(ne) | Seisoene | Wedstryde |
---|---|---|---|
Hugh Reece-Edwards | Natal | 1982–1995 | 165
|
Jacques Botes | Pumas/Natal | 2002–2014 | 156
|
Helgard Müller | Vrystaat | 1983–1998 | 142
|
Rudi Visagie | Vrystaat/Natal/Mpumalanga | 1980–1996 | 141
|
Chris Badenhorst | Vrystaat | 1987–1999 | 136
|
Burger Geldenhuys | Noord-Transvaal | 1977–1989 | 128
|
André Joubert | Vrystaat/Natal | 1986–1999 | 126
|
- Meeste Loopbaanpunte
Naam | Span(ne) | Seisoene | Punte |
---|---|---|---|
Naas Botha | Noord-Transvaal | 1977–1992 | 1 699
|
Willem de Waal | Wes-Transvaal/Vrystaat/WP | 2002–2010 | 1 412
|
Eric Herbert | Noord-Vrystaat/Vrystaat | 1986–2001 | 1 402
|
De Wet Ras | Vrystaat/Natal | 1974–1986 | 1 210
|
André Joubert | Vrystaat/Natal | 1986–1999 | 1 165
|
- Meeste loopbaandrieë
Naam | Span(ne) | Seisoene | Drieë |
---|---|---|---|
John Daniels | Boland/Transvaal | 1998–2006 | 74
|
Breyton Paulse | Westelike Provinsie | 1996–2004 | 66
|
Chris Badenhorst | Vrystaat | 1987–1999 | 65
|
André Joubert | Vrystaat/Natal | 1986–1999 | 58
|
Gerrie Germishuys Carel du Plessis Neil Burger Jan-Harm van Wyk |
Vrystaat/Transvaal Westelike Provinsie/Transvaal Westelike Provinsie Vrystaat/Suidoos-Transvaal |
1971–1985 1980–1989 1982–1991 1996–2001 |
51 51 51 51 |
- Meeste indiwiduele punte in ’n seisoen
Naam | Span(ne) | Seisoen | Punte |
---|---|---|---|
Johan Heunis | Noord-Transvaal | 1989 | 268
|
Gavin Lawless | Transvaal | 1996 | 263
|
Casper Steyn | Noord-Transvaal | 1999 | 252
|
Kennedy Tsimba | Vrystaat | 2003 | 230
|
Kennedy Tsimba | Vrystaat | 2002 | 228
|
- Meeste spanpunte in ’n seisoen
Span | Seisoene | Punte |
---|---|---|
Natal | 1996 | 792
|
Noord-Transvaal | 1996 | 783
|
- Meeste indiwiduele drieë in ’n seisoen
Naam | Span | Seisoen | Drieë |
---|---|---|---|
Bjorn Basson | Griekwas | 2010 | 21
|
Carel du Plessis | Westelike Provinsie | 1989 | 19
|
Colin Lloyd | Wes-Transvaal | 2006 | 19
|
Ettiene Botha | Noord-Transvaal | 2004 | 18
|
Jan-Harm van Wyk | Vrystaat | 1997 | 16
|
Rayno Benjamin | Transvaal | 2006 | 16
|
Phillip Burger | Vrystaat | 2006 | 15
|
- Meeste spandrieë in ’n seisoen
Span | Seisoene | Punte |
---|---|---|
Natal | 1996 | 112
|
- Meeste indiwiduele punte in ’n wedstryd
Naam | Span | Seisoen | Punte |
---|---|---|---|
Jannie de Beer | Vrystaat teen Noord-Vrystaat | 1997 | 46
|
- Meeste indiwiduele drieë in ’n wedstryd
Naam | Span | Seisoen | Drieë |
---|---|---|---|
Jacques Olivier | Noord-Transvaal teen Suidwestelike Distrikte | 1996 | 7
|
- Meeste verskynings in ’n eindstryd
Naam | Span | Verskynings | Seisoene |
---|---|---|---|
Burger Geldenhuys Naas Botha |
Noord-Transvaal Noord-Transvaal |
11
|
Tussen 1977 en 1989 Tussen 1977 en 1991 |
Louis Moolman | Noord-Transvaal | 9
|
Tussen 1975 en 1986 |
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
- ↑ (en) "Namibia to compete in enlarged Currie Cup". The Namibian. 6 Augustus 2015. Besoek op 6 Augustus 2015.[dooie skakel]
- ↑ (af) "Rugbybase wil Curriebeker-reeks nou tot 15 spanne beperk". Netwerk24. 18 Augustus 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Augustus 2015. Besoek op 14 November 2018.
- ↑ (en) "Georgian Rugby to enter team in Currie Cup". Rugbypass. 22 Desember 2019. Besoek op 30 Januarie 2021.
- ↑ (en) Herman Mostert (21 Februarie 2022). "Georgia, Zimbabwe and Kenya join SA's Currie Cup structure". Netwerk24. Besoek op 1 Julie 2022.
- ↑ (en) "Currie Cup First Division – Mzansi Challenge". Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Besoek op 24 Junie 2023.
- ↑ (af) "Absa Curriebeker kry 'n nuwe baadjie". 8 Augustus 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Maart 2016. Besoek op 8 Augustus 2013.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Curriebeker.
- (en) Amptelike webwerf