Gaan na inhoud

Moderne vyfkamp

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Piktogram wat Moderne vyfkamp aandui
Duitse posseël wat die items van die moderne vyfkamp uitbeeld
Moderne vyfkampers op die Spele van 2004, besig met die laaste item

Die moderne vyfkamp is 'n sportwedstryd wat vyf items insluit naamlik pistoolskiet, skermdegen, 200 m vryslag swem, perdespring (toonspring) en 'n 3 km veldloop.[1] Die sport word gereguleer deur die Union Internationale de Pentathlon Moderne (UIPM), die Internasionale Moderne Vyfkamp Unie.[1]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die moderne vyfkamp is uitgedink deur die baron Pierre de Coubertin, die stigter van die moderne Olimpiese Spele.[1] Die naam kom van die Grieks penta- "vyf" en -athlon "wedstryd".[1] Die toevoeging van moderne tot die naam het dit onderskei van die oorspronklike vyfkamp van die antieke Olimpiese Spele, wat bestaan het uit 'n stadion wedloop, stoei, verspring, spiesgooi en skyfwerp. Namate die oorspronklike vyfkamp rondom die vaardighede van die perfekte soldaat van daardie tyd ontstaan het, het Coubertin die wedstryd geskep om die ervarings van 'n 19de eeuse berede soldaat aan die vyandige kant te simuleer: hy moet op 'n onbekende perd ry, met 'n pistool en swaard veg, swem en hardloop.[1]

Die moderne vyfkamp is die eerste keer tydens die 1912 Olimpiese Spele gehou en is deur die Sweedse atleet, Gösta Lilliehöök gewen. Die moderne vyfkamp is sedert 1912 by elke Olimpiese Spele aangebied. 'n Afdeling vir spanne is by die 1952 Olimpiese Spele aanvaar, maar is laat vaar by die 1992 Olimpiese Spele. 'n Afdeling vir vroue is by die 2000 Olimpiese Spele aanvaar.[1] In nie-Olimpiese jare word jaarliks, sedert 1949, 'n Wêreldkampioenskap-byeenkoms gehou.

Die kompetisie het oorspronklik oor vier tot vyf dae gestrek maar met die 1996 Olimpiese Spele is 'n een-dag formaat aanvaar in 'n poging om die sport meer toeganklik vir gehore te maak.[1] Ten spyte van die wedstryd se sterk verbintenis met die moderne Olimpiese Spele (die feit dat dit die enigste sportsoort is wat uitsluitlik vir die Olimpiese Spele ontwikkel is), het die gebrek aan belangstelling buite Oos-Europa gelei tot vrae oor die voortbestaan van die sportsoort by die Olimpiese Spele. Die IOK het egter op 8 Julie 2005 gestem om die sportsoort in die Olimpiese program te hou tot ten minste die 2012 Olimpiese Spele.

Formaat

[wysig | wysig bron]

Buiten die skermkompetisie neem atlete nie direk teenoor mekaar deel in een van die vier ander items nie. 'n Beter algehele vertoning gee uiteindelik 'n hoër puntetelling; punte vir elke item word saamgevoeg om die totale punte te bereken. Dit is soortgelyk aan die prosedure vir die berekening van punte vir die tienkamp in atletiek. 'n Nuwe element is egter bekend gestel om die eindstryd meer opwindend te maak. Die laaste item is die veldloop. Deelnemers word ingedeel volgens die telling van die vorige vier items en kry verskillende wegspringtye, met die voorloper (volgens die punte) wat eerste wegspring en die ander wat verspreid volgens hulle puntestand wegspring. Die gevolg is dat die eerste persoon oor die wenstreep ook die algehele wenner van die vyfkamp is.

In November 2008 het die UIPM gestem dat die formaat aan die begin van 2009 verander gaan word. Die hardloop en skiet-items word in tandem (m.a.w. opeenvolgend) beslis. Atlete sal drie skietbeurte hê na vyf teikens, gevolg deur 'n 1000 m wedren. Dit is soortgelyk aan die tweekamp by die Olimpiese Winterspele wat 'n heg-en-steg-ski-wedloop met pistoolskiet kombineer. Die verskil is egter dat die skiërs hulle gewere saamdra maar die vyfkampatlete nie. Hierdie verandering het kritiek ontlok van persone wat meen dat die verandering die nodige vaardighede vir die sport radikaal verander. Die New York Times het selfs voorgestel dat dit verander moet word na "vierkamp" omdat twee van die vyf items in 'n enkele item saamgevat is.[1]

Die skiet-item behels die gebruik van 'n 4,5 mm luggeweer (windbuks) in 'n staande posisie op 'n afstand van 10 m na 'n stilstaande teiken. Tot en met die reëlverandering in 2008 was dit in die formaat van 'n 10 m luggeweer-kompetisie: elke deelnemer het 20 skote gehad waarvoor 40 sekondes per skoot toegelaat is. In die nuwe formaat moet, in elke drie skietrondes, elke deelnemer na vyf teikens skiet en die geweer na elke skoot herlaai; daarna mag hulle verder hardloop. 'n Skoot wat die teiken mis word nie gepenaliseer nie, maar indien die totale tyd (70 sekondes) oorskry word, kan 'n penalisasie volg.[1]

Die skerm-item maak gebruik van die skermdegen. Die kompetisie is 'n rondomtalie-toernooi, wat beteken dat elke deelnemer teen elk van die ander deelnemers te staan kom. Elke wedstryd duur een minuut; die eerste skermer om 'n "raak" aan te teken, wen outomaties. Indien geen speler binne die toegelate minuut die ander "raak" nie, verloor beide die wedstryd.

Die swem-item is 'n 200 m vryslag swem wedren. Tot die 2000 Olimpiese Spele was die afstand 300 m.[2] Deelnemers word d.m.v. uitdunne gekeur na aanleiding van hul vinnigste tye oor die afstand.

Die perdry-item behels 'n vertoonspring (show jump) item oor 'n 350–450 m baan met 12 tot 15 versperrings. Deelnemers se perde word in 'n trekking 20 minute voor die begin van die item aan hulle toegewys.

Die hardloop-item behels 'n 3 km landloop wedren. Tot die 2000 Olimpiese Spele was die afstand 4 km.[2] Die onderbreking van die pistoolskiet het wel die formaat van die wedren verander, maar nie die beginsel dat die algehele wenner die eerste is om oor die wenstreep te trap nie.[1]

Wêreldkampioene

[wysig | wysig bron]
Jaar Atleet Nasionaliteit
2008 Ilia Frolov Vlag van Rusland Rusland
2007 Viktor Horvath Vlag van Hongarye Hongarye
2006 Edvinas Krungolcas Vlag van Litaue Litaue
2004 Andrejus Zadneprovskis Vlag van Litaue Litaue
2003 Eric Walther Vlag van Duitsland Duitsland
2002 Michal Sedlecký Vlag van Tsjeggië Tsjeggiese Republiek
2001 Gábor Balogh Vlag van Hongarye Hongarye
2000 Andrejus Zadneprovskis Vlag van Litaue Litaue
1999 Gábor Balogh Vlag van Hongarye Hongarye
1998 Sebastien Deleigne Vlag van Frankryk Frankryk
1997 Sebastien Deleigne Vlag van Frankryk Frankryk
1995 Dmitri Svatkovski Vlag van Rusland Rusland
1994 Dmitri Svatkovski Vlag van Rusland Rusland
1993 Richard Phelps Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
1991 Arkadiusz Skrzypaszek Vlag van Pole Pole
1990 Gianluca Tiberti Vlag van Italië Italië
1989 László Fabian Vlag van Hongarye Hongarye
1987 Joël Bouzou Vlag van Frankryk Frankryk
1986 Carlo Massullo Vlag van Italië Italië
1985 Attila Mizser Vlag van Hongarye Hongarye
1983 Anatoli Starostin Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1982 Daniele Masala Vlag van Italië Italië
1981 Janusz Pyciak-Peciak Vlag van Pole Pole
1979 Robert Nieman Vlag van Verenigde State van Amerika VSA
1978 Pavel Lednev Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1977 Janusz Pyciak-Peciak Vlag van Pole Pole
1975 Pavel Lednev Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1974 Pavel Lednev Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1973 Pavel Lednev Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1971 Boris Onishchenko Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1970 Péter Kelemen Vlag van Hongarye Hongarye
1969 András Balczo Vlag van Hongarye Hongarye
1967 András Balczo Vlag van Hongarye Hongarye
1966 András Balczo Vlag van Hongarye Hongarye
1965 András Balczo Vlag van Hongarye Hongarye
1963 András Balczo Vlag van Hongarye Hongarye
1962 Eduard Sdobnikov Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1961 Igor Novikov Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1959 Igor Novikov Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1958 Igor Novikov Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1957 Igor Novikov Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1955 Konstantion Salnikov Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1954 Björn Thofelt Vlag van Swede Swede
1953 Gábor Benedek Vlag van Hongarye Hongarye
1951 Lars Hall Vlag van Swede Swede
1950 Lars Hall Vlag van Swede Swede
1949 Tage Bjurefelt Vlag van Swede Swede

Vroue

[wysig | wysig bron]
Jaar Atleet Nasionaliteit
2008 Amélie Cazé Vlag van Frankryk Frankryk
2007 Amélie Cazé Vlag van Frankryk Frankryk
2006 Marta Dziadura Vlag van Pole Pole
2005 Claudia Corsini Vlag van Italië Italië
2004 Zsuzsanna Vörös Vlag van Hongarye Hongarye
2003 Zsuzsanna Vörös Vlag van Hongarye Hongarye
2002 Bea Simoka Vlag van Hongarye Hongarye
2001 Stephanie Cook Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
2000 Pernille Svarre Vlag van Denemarke Denemarke
1999 Zsuzsanna Vörös Vlag van Hongarye Hongarye
1998 Anna Sulima Vlag van Pole Pole
1997 Jelisaweta Suworowa Vlag van Rusland Rusland
1996 Janna Dolgaschewa-Schubenok Vlag van Belarus Belo-Rusland
1995 Kerstin Danielsson Vlag van Swede Swede
1994 Eva Fjellerup Vlag van Denemarke Denemarke
1993 Eva Fjellerup Vlag van Denemarke Denemarke
1992 Iwona Kowalewska Vlag van Pole Pole
1991 Eva Fjellerup Vlag van Denemarke Denemarke
1990 Eva Fjellerup Vlag van Denemarke Denemarke
1989 Lori Norwood Vlag van Verenigde State van Amerika VSA
1988 Dorota Idzi Vlag van Pole Pole
1987 Irina Kisselyeva Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1986 Irina Kisselyeva Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1985 Barbara Kotowska Vlag van Pole Pole
1984 Svetlana Jakovleva Vlag van Sowjetunie Sowjetunie
1983 Lynn Chernobrywy Vlag van Kanada Kanada
1982 Wendy Norman Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
1981 Ann Ahlgren Vlag van Swede Swede

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,00 1,01 1,02 1,03 1,04 1,05 1,06 1,07 1,08 1,09 Branch, John (26 November 2008). "Modern Pentathlon Gets a Little Less Penta". New York Times. Besoek op 27 November 2008.
  2. 2,0 2,1 "Modern Pentathlon". 'Good Luck Beijing'. 10 Maart 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Oktober 2008. Besoek op 27 November 2008.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.