Oseanië
Oseanië
Oppervlakte | 8 525 989 km² (7de) |
---|---|
Bevolking | 36 659 000 (2010, 6de) |
Bevolkingsdigtheid | 4,19/km² |
Lande | 15 |
Afhanklike gebiede | 25 |
Tale | Engels, Frans en Oseaniese tale soos Hawais en Māori |
Tydsones | UTC+14 (Kiribati) tot UTC-11 (Amerikaans-Samoa en Niue) |
Grootste stede | Sydney Melbourne Brisbane Perth Auckland Adelaide Wellington Honolulu Canberra Christchurch Djajapoera Port Moresby Nouméa Goudkus |
Oseanië is die kollektiewe naam vir 'n groot aantal eilande in die Stille Oseaan. Die gebied word meestal in drie eilandgroepe ingedeel: Melanesië, Mikronesië en Polinesië.[1] In 'n breër sin verwys die term Oseanië na al die eilande tussen Suidoos-Asië en die Amerikas, insluitende Australasië en die Maleise argipel.
In 'n ruimer perspektief word Australië, Nieu-Guinee en Nieu-Seeland ook as deel van Oseanië gesien. Mense praat dan van die kontinent Oseanië, hoewel dit strenggesproke foutief is omrede slegs die Australiese kontinent (Sahoellandplaat) as 'n kontinent gereken word.
Lande
[wysig | wysig bron]Die kaart met skakels hieronder wys die eksklusiewe ekonomiese streke van die eilande van Oseanië en omliggende gebiede as ’n gids vir die volgende tabel. (Duidelike politieke grense is onmoontlik op ’n kaart van die Stille Oseaan op hierdie skaal.)
Naam van streek en gebied, met vlag | Oppervlak (km²) |
Bevolking[2] | Bevolkingsdigtheid (per km²) |
Hoofstad | |
---|---|---|---|---|---|
Australasië | |||||
Ashmore- en Cartiereilande (Australië) | 199 | ||||
Australië | 7 686 850 | 23 034 879 | 3 | Canberra | |
Kerseiland (Australië) | 135 | 1 493 | 4 | Flying Fish Cove | |
Kokoseilande (Australië) | 14 | 628 | 45 | West Island | |
Koraalsee-eilande (Australië) | 10 | 4 | |||
Nieu-Seeland | 268 680 | 4 465 900 | 17 | Wellington | |
Norfolkeiland (Australië) | 35 | 2 302 | 62 | Kingston | |
Melanesië | |||||
Fidji | 18 270 | 856 346 | 47 | Suva | |
Nieu-Kaledonië (Frankryk) | 19 060 | 240 390 | 13 | Nouméa | |
Molukke (Indonesië) | 74 505 | 1 895 000 | |||
Papua (Indonesië) | 319 036 | 3 486 432 | 11 | Djajapoera | |
Wes-Papua (Indonesië) | 140 375 | 760 855 | 5 | Manokwari | |
Papoea-Nieu-Guinee | 462 840 | 5 172 033 | 11 | Port Moresby | |
Salomonseilande | 28 450 | 494 786 | 17 | Honiara | |
Vanuatu | 12 200 | 240 000 | 20 | Port Vila | |
Mikronesië | |||||
Gefedereerde State van Mikronesië | 702 | 135 869 | 194 | Palikir | |
Guam (Verenigde State) | 549 | 160 796 | 293 | Hagåtña | |
Kiribati | 811 | 96 335 | 119 | Suid-Tarawa | |
Marshalleilande | 181 | 73 630 | 407 | Majuro | |
Nauru | 21 | 12 329 | 587 | Yaren (de facto) | |
Noordelike Mariana-eilande (Verenigde State) | 477 | 77 311 | 162 | Saipan | |
Palau | 458 | 19 409 | 42 | Ngerulmud | |
Wake-eiland (Verenigde State) | 2 | 150 | Wake-eiland | ||
Polinesië | |||||
Amerikaans-Samoa (Verenigde State) | 199 | 68 688 | 345 | Pago Pago | |
Cookeilande (Nieu-Seeland) | 240 | 20 811 | 87 | Avarua | |
Paaseiland (Chili) | 164 | 5 761 | 31 | Hanga Roa | |
Frans-Polinesië (Frankryk) | 4 167 | 257 847 | 62 | Papeete | |
Hawaii (Verenigde State) | 16 636 | 1 360 301 | 82 | Honolulu | |
Niue (Nieu-Seeland) | 260 | 2 134 | 8 | Alofi | |
Pitcairneilande (Verenigde Koninkryk) | 5 | 47 | 10 | Adamstown | |
Samoa | 2 944 | 179 000 | 63 | Apia | |
Tokelau (Nieu-Seeland) | 10 | 1 431 | 143 | ||
Tonga | 748 | 106 137 | 142 | Nukuʻalofa | |
Tuvalu | 26 | 11 146 | 429 | Funafuti | |
Wallis en Futuna (Frankryk) | 274 | 15 585 | 57 | Matāʻutu | |
Totaal | 8 919 530 | 41 050 699 | 4 | ||
Totaal sonder vastelandse Australië | 1 232 680 | 19 022 699 | 15 |
Algemene gegewens
[wysig | wysig bron]Die Stille Oseaan is die grootste aaneengeslote watermassa op aarde. Dit is twee maal groter as die Atlantiese Oseaan; op sy breedste is hy meer as 20 000 km breed, terwyl die oppervlakte meer as 180 miljoen km² beslaan. Op sommige plekke, in die sogenaamde trôe (so as die Tongatrog en die Marianatrog), is die see meer as 11 km diep. Na raming is daar meer as 7 000 eilande in die gebied, waarvan net meer as 2 600 bewoon word.
Die grootte van die eilande wissel baie: Nieu-Guinee beslaan meer as 800 000 km², Tahiti sowat 1 000 km², terwyl Puka-Puka net 5 km² groot is. Slegs sowat 1% van die totale oppervlakte van die Stille Oseaan bestaan uit landmassas. Die eilande het op verskillende maniere ontstaan. Nieu-Guinee is 'n kontinentale eiland en het vroeër deel uitgemaak van 'n vasteland of kontinent. Vanweë die styging van die seevlak na die laaste ystyd is die laagste dele van die kontinent oorstroom, terwyl die hoër liggende gebiede, wat droog gebly het, eilande geword het. Tahiti en Puka-Puka is egter oseaniese eilande, wat nie deel uitgemaak het van 'n vasteland nie.
Daar kan tussen twee soorte oseaniese eilande onderskei word, naamlik vulkaniese en die kleiner koraaleilande. Vulkaniese eilande bestaan uit die pieke van vulkane wat so hoog van die seebodem af strek dat hulle redelik ver bo die water uitsteek. Gewoonlik bestaan vulkaniese eilande uit 'n aantal pieke en tussenruimtes wat opgevul is met vulkaniese afskeidings- en verweringsmateriaal. Tipiese voorbeelde is die Hawaii-eilande, die Geselskapseilande (Archipel de la Société, waarvan Tahiti deel uitmaak) en die Marquesaseilande.
Vulkaniese eilande is meestal baie vrugbaar en die hoë reënval maak oorvloedige plantegroei moontlik. Koraaleilande is daarenteen laag en steek net 'n paar meter bo die seevlak uit. Hulle is opgebou uit kalk wat deur koraaldiertjies gevorm word. Namate die seevlak na die ystyd gestyg het, het die korale ook al hoe hoër gegroei en uiteindelik ’n koraalrif rondom die langsaam kleiner wordende vasteland of eiland gevorm. Baie vulkaniese eilande het vandag sulke riwwe, wat 'n beskerming teen die geweld van die oseaan vorm.
Wanneer so 'n (vulkaniese) eiland met verloop van tyd geheel en al onder die water verdwyn, bly net 'n koraalring oor, ’n wye krans van kalksteen, wat as ’n atol bekend staan. Die vlak water binne die ring vorm 'n lagune. Wind en golwe verweer die kalkrande en vorm 'n reeks los, lae eilandjies, wat uit 'n soort growwe sand op 'n rotsagtige ondergrond bestaan. Hierdie lae eilande is oor die algemeen droog en onvrugbaar en net 'n paar plante kan daar groei.
Die verskillende spesies van die genus Pandanus (familie Pandanacea) en die kokospalm (Cocos nucifera) is die belangrikste plantegroei. Hoewel die meeste atolle ’n omtrek van 'n paar kilometer het, is net 'n paar van die talle eilandjies bewoonbaar. Die eilande van die Stille Oseaan word in die volgende hoofgroepe verdeel: Polinesië, Melanesië en Mikronesië.
Terminologie
[wysig | wysig bron]Soomriwwe (ook kusriwwe genoem)
[wysig | wysig bron]Hulle ontwikkel op die seebodem teenaan die kus en smelt plek-plek daarmee saam.
Walriwwe
[wysig | wysig bron]Walriwwe (Engels: barrier reefs), lê ewewydig met die kus, maar word deur 'n breë seestrook, 'n strandkanaal genoem, daarvan geskei. Hulle kan tussen 100 meter en meer as 100 kilometer van die kus af lê en honderde kilometers lank wees. Die groot, beroemde walrif aan die kus van Queensland in Australië is ongeveer 2 000 kilometer lank en ongeveer 150 kilometer van die kus. Hierdie rif beskerm wel die kus teen die aanslae van die see, maar dit bou ook groot gevaar vir die skeepvaart in. Baie skepe het reeds hier gestrand, terwyl ander ernstig deur die vlak uitlopers van die rif beskadig is.
Atolle (strandmeereilande)
[wysig | wysig bron]Dit is lae koraaleilande wat 'n kring vorm om die stukkie see wat bulle insluit. Op party plekke is die rif onderbreek en kan mens die strandmeer in die middel (diepte tot 150 meter) van die oop see af bereik. Volgens die bioloog Charles Darwin het die atolle ontstaan deurdat koraalneerslae om klein eilande gevorm het.
Soos die koraalrif groei, sink die eiland totdat dit geheel en al onder die see verdwyn, en ons het dan 'n strandmeer, omring deur die kring van koraaleilande. Hoewel hierdie teorie vandag die meeste aanhang geniet, is daar bewyse dat dit in sy eenvoudigste vorm nie die enigste verklaring vir die vorming van atolle is nie.
Polinesië
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Polinesië.
Die eilande binne ’n denkbeeldige driehoek wat deur Hawaii (Verenigde State), Nieu-Seeland en Paaseiland (Chili) gevorm word, staan bekend as Polinesië ("baie eilande"). Die gebied het 'n bevolking van sowat 10 miljoen. Die Polinesiërs toon, ondanks die dikwels groot afstande tussen die verskillende eilandgroepe, baie ooreenkomste ten opsigte van taal en kultuur.
Naas die reeds genoemde grenseilande, behoort onder meer die volgende tot Polinesië: die Cookeilande (Nieu-Seeland), die Geselskapseilande (Frankryk), die atolle van die Tuamotu-argipel (Frankryk), die Samoa-eilande (deels selfstandig, deels Verenigde State), die Tonga-eilande (selfstandig), die Marquesaseilande (Frankryk) en Tuvalu, die voormalige Britse Eillice-eilande wat sedert 1975 onafhanklik is.
Mikronesië
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Mikronesië.
Mikronesië ("klein eilande") word begrens deur ’n denkbeeldige lyn wat deur Hawaii en Nieu-Seeland loop in die ooste, deur Japan en die Filippyne in die weste en deur die Filippyne en Fidji in die suide. In hierdie gebied het sowat 1 miljoen mense gewoon.
Die meeste eilande in hierdie gebied is atolle, terwyl 'n paar, soos Yap, Ponape of Saipan, vulkaniese eilande is. Net soos die atol Tarawa het Saipan tydens die Tweede Wêreldoorlog bekend geword vanweë die verwoede stryd tussen die Verenigde State en Japan om besit van hierdie strategies belangrike eilande. Mikronesië sluit ook die Mariana-, die Karoline-, die Marshall-, die Palau-en die Kiribati-eilande in. Sedert die Tweede Wêreldoorlog staan al hierdie groepe, met uitsondering van die Gefedereerde State van Mikronesië, Kiribati, Marshalleilande, Nauru en Palau, onder die bestuur van die Verenigde State (die sogenaamde eilandgebiede).
Melanesië
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Melanesië.
Melanesië ("swart eilande", so genoem na aanleiding van die donker velkleur van die bewoners) bestaan meestal uit kontinentale eilande wat in 'n lang boog noordoos van Australië uitgestrek lê. Daar is meer as 10 miljoen inwoners in hierdie gebied. Die bevolking van hierdie eilande is baie minder homogeen as die van die ander twee groepe.
Die meeste van hulle is wel donker van kleur, maar die taal en kultuur verskil aansienlik. Die belangrikste eiland in hierdie groep is Nieu-Guinee (dit behoort gedeeltelik aan Indonesië en is gedeeltelik onafhanklik). Ander eilande wat tot die groep behoort, is Nieu-Brittanje (Papoea-Nieu-Guinee), die Salomonseilande (Brittanje), die Nuwe Hebride (Vanuatu), die Fidji-eilande (selfstandig), Trobriand-eiland (Papoea-Nieu-Guinee) en Nieu-Kaledonië (Frankryk).
Ekonomiese betekenis
[wysig | wysig bron]Oseanië het reeds vroeg in die 19de eeu ekonomies aanloklik geword. Die walvis is op groot skaal gejag en die handel in sandelhout het gebloei. Ander belangrike produkte was kopra (gedroogde klapper), suiker, pynappels, vis en fosfaat. Kopra, die gedroogde vleis van die kokosneut, is 'n belangrike grondstof vir die vervaardiging van seep en margarien.
Toe die handelsmoontlikhede daarvan bekend word, is die kokospalm op groot skaal aangeplant en na raming was daar met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog ongeveer 50 miljoen kokospalms in Oseanië. Meer as 'n kwartmiljoen ton kopra word jaarliks na die kopraverwerkende nywerhede van die Westerse lande uitgevoer. ’n Deel van die kopra word deur die inheemse bevolking geproduseer, terwyl die res verkry word van groot plantasies wat in besit van Westerse ondernemings is.
Hierdie ondernemings het 'n groot invloed op die daaglikse lewe in die gebiede waar hulle plantasies het, veral in Melanesië. In teenstelling met kopra, wat byna oral geproduseer word, is die verbouing van suikerriet beperk tot 'n paar eilandgroepe, naamlik Hawaii, waar Amerikaanse kapitaal geïnvesteer is, die Fidji-eilande (met Britse geld) en die Mariane-eilande, waar Japan groot belange het. Die verbouing van suikerriet is sowel kapitaal- as arbeidsintensief. Die investering en bestuur het van buite gekom en arbeiders moes mettertyd ingevoer word. Die inheemse bevolking was nie in die monotone roetinewerk op die suikerplantasies geïnteresseerd nie.
Byna 40 000 Chinese is sedert 1835 vir hierdie doel na Hawaii gebring. Na hul kontrakte verstryk het, het heel party na China teruggekeer, maar die meeste het hulle in Hawaii gevestig en hulle op die handel toegelê. Vandag is die handel grotendeels in Chinese hande. Tussen 1894 en 1939 is meer as 180 000 Japanners na die eilande gebring en hulle vorm tans die grootste bevolkingsgroep op die Hawaii-eilande. Ook hulle het die plantasies geleidelik verlaat, en om in die voortdurende arbeiderstekort te voorsien, is arbeiders uit die Filippyne gebring.
Vandag woon daar meer as 100 000 Filippino's in Hawaii. Die suikerverbouing op die Hawaii-eilande word deur slegs ’n paar families gemonopoliseer en na die Tweede Wêreldoorlog was daar hewige arbeidskonflikte. Op die Fidji-eilande word die suikerplantasies bewerk deur ingevoerde arbeiders uit Indië. Die meer as 60 000 arbeiders wat tussen 1870 en 1916 vir die werk gewerf is, was ywerig en ambisieus en het gou hulle invloed laat geld. Hulle speel vandag 'n groot rol in die ekonomie van die eilande.
Veral op die Hawaii-eilande, maar ook elders, vorm pynappelverbouing 'n belangrike bron van inkomste. Die probleem om hierdie vrugte in eetbare toestand oor die oseaan te vervoer, is opgelos deur die pynappels in te maak. Die Hawaii-eilande lewer op die oomblik meer as 60% van die wêreld se ingemaakte pynappels. Wat die visserybedryf betref, word daar nou op groot skaal tuna en katonkel gevang omdat die walvisse byna heeltemal uitgeroei is. Veral Japanse vissers is baie bedrywig in die gebied.
'n Deel van die jaarlikse visvangs word van klein, primitiewe bootjies gevang en 'n deel van groot, goed toegeruste skepe met 'n groot vaarbereik en van die modernste hulpmiddele om skole vis op te spoor. Dik lae fosfaat word op die klein, geïsoleerde eilandjies Nauru en Ocean Island (Kiribati) aangetref. Hierdie delfstof word sedert 1900 ontgin, ook met behulp van ingevoerde (Japanse en Chinese) arbeiders. Ook elders, byvoorbeeld op Makatea (naby Tahiti) en Angaur (Karoline-eilande), word fosfaat ontgin.
Die jare na die Tweede Wêreldoorlog het nog 'n nuwe bron van inkomste vir die eilande van Oseanië opgelewer, naamlik toerisme. Dit was veral die Hawaii-eilande en Tahiti wat die eerste belangstelling gewek het. Vandag is baie meer eilande op toerisme toegespits, soos die Samoa- en die Tonga-eilande. Die welvaart wat toerisme gebring het, het daartoe gelei dat ook ander eilande probeer om welgestelde vakansiegangers te trek.
Ekonomiese probleme
[wysig | wysig bron]Die inheemse bevolking trek maar min voordeel uit die welvaart. Hulle werk in hotelle en is ook lede van dansgroepe, maar deel nie noodwendig in die winste nie. Op byna al die eilande is die probleme dieselfde: die inkomste is beperk, die bevolkingstal klein en die oppervlakte van die eilande onekonomies klein. Solank hulle deel uitgemaak het van 'n groter geheel, byvoorbeeld as kolonie of as lid van 'n gemenebes, het dit voorspoedig gegaan.
Van die eilande en eilandgroepe het nou selfstandig geword, en die ekonomiese vooruitsigte is minder rooskleurig. Die meeste van hierdie eilande is slegs op een produk aangewese of is finansieel van hul (vroeëre) koloniseerders afhanklik. Daar word met onderlinge samewerking geprobeer om oplossings vir die gemeenskaplike probleme te vind.
Staatjies soos Tonga, die Cookeilande, Niue, Papoea-Nieu-Guinee en Samoa is, saam met die buurlande Australië en Nieu-Seeland, verenig in onder meer die South Pacific Forum en die South Pacific Commission. Ook die betrekkinge met ander lande wat groot belange (ekonomies of strategies) in die gebied het, soos die Verenigde Koninkryk, Frankryk, Japan en die Verenigde State, speel 'n belangrike rol.
Polinesië
[wysig | wysig bron]Die Polinesiese eilande is oor die algemeen groter, hoër en vrugbaarder as die atolle van Mikronesië. Dit geld egter nie vir die Eillice- en Tuamoto-eilande nie, wat (net soos die meeste Mikronesiese eilande) geheel en al uit atolle bestaan, en ook nie vir 'n paar van die Cookeilande nie, wat insgelyks tot hierdie kategorie behoort. Die lewensomstandighede op die ander eilande is gunstiger, daar woon baie meer mense en daar het uiteindelik baie komplekse kulture ontwikkel.
Die bewoners van die verskillende eilandgroepe toon baie ooreenkomste ten opsigte van sedes, gewoontes en tale. Tog verstaan die Polinesiërs mekaar onderling nie maklik nie. Hul Polinesiese tale verskil soos byvoorbeeld Spaans, Frans en Italiaans van mekaar verskil. Vir die buitestaander lyk dit egter asof daar baie ooreenkomste is. So is die woord vir huis byvoorbeeld in Samoaans fale, in Tahitiaans fare, in Hawaiis hale, in Cookeilandse Māori are, op die Marquesas-eilande hae en op Mangareva hare.
Die tradisionele bestaansmiddel is tuinbou (taro, jam, broodvrug, kokosneute, skroefpalm en piesangs), veeteelt (varke) en vissery. Die oeste is gewoonlik oorvloedig en baie Europese ontdekkingsreisigers het hieruit voordeel getrek. Voorrade is aangevul en die vermoeide bemanning kon rus. Hierdie Suidsee-eilande het dan ook vir ’n lang tyd bekend gestaan as die "paradys op aarde". Hierdie opvatting het ontstaan na aanleiding van verslae van 18de eeuse ontdekkers soos Louis Antoine de Bougainville (1729–1822) en Samuel Wallis (1728–1795).
Hul redelik verdraaide berigte het as 't ware as bewys gedien vir die bestaan van die sogenaamde edel barbaar, 'n ideale figuur wat veral in die geskrifte van Jean-Jacques Rousseau en sy aanhangers verheerlik is. Hulle het betoog dat die mens net in sy natuurlike staat werklik gelukkig is. Die minder gelukkige kant van die Polinesiërs se lewenswyse, wat ook in die joernale van ontdekkingsreisigers beskryf is, is in Europa geïgnoreer.
Die Polinesiese samelewing
[wysig | wysig bron]In Polinesië, net soos op die Mikronesiese eilande was herkoms ’n bepalende faktor in 'n persoon se posisie in die samelewing. Daar het dikwels 'n groot afstand tussen die verskillende groepe van die bevolking bestaan. Oor die algemeen was daar 'n adellike groep met baie voorregte, en dan die gewone volk, wat talle verpligtinge gehad het. Hierdie patroon het van eiland tot eiland en van eilandgroep tot eilandgroep verskil, maar die ongelykheid het tog die grondslag van die Polinesiese samelewing gevorm.
Die Polinesiërs glo dat hulle van een van die drie gode Tu, Tane of Rangiroa afstam. Van die goddelike krag het in hul afstammelinge bewaar gebly, en die krag was natuurlik die sterkste in diegene wat direkte afstammelinge van hierdie gode was. Hierdie krag is gewoonlik met die term mana aangedui.
In die tradisionele eilandsamelewing het hierdie afstammelinge van die gode die vorste geword. Hul posisie is deur die godsdiens bevestig, maar hulle moes tog deur die verrigting van groot dade toon dat hulle inderdaad die draers van hierdie sogenaamde mana was. Hierdie vorste is as so heilig beskou en was volgens oorlewering met sulke ontsettende mag beklee dat alles wat op hulle betrekking gehad het, met die uiterste omsigtigheid behandel moes word.
Die taboe, soos dit bekend gestaan het, het veral gedien om die bestaande samelewing met sy range en stande te stabiliseer. In die daaglikse lewe het die taboe (in Polinesies word daar gepraat van "tapu") ook gedien om die gewone burger teen die gewaande bonatuurlike kragte van die vors te beskerm. Oortreding van 'n taboe sou 'n onmiddellike dood tot gevolg hê, maar voor dit kon gebeur, is die skuldige deur handlangers van die vors doodgemaak. Die begrip taboe het ook buite Polinesië 'n meer algemene betekenis verkry.
Direk onder die vors was die adel. Die adelstand was nou verwant aan die vors en kon aanspraak maak op verhewe afstamming. Uit hierdie groep het gewoonlik die bestuursamptenare, die ministers, die distrikshoofde, leëraanvoerders en priesters gekom. Net op die Hawaii-eilande was dit moontlik dat begaafde manne uit die volk betekenisvolle poste kon bekom. Die volk het egter nie net uit 'n gedifferensieerde massa tuinbouers en vissers bestaan nie. Bepaalde families, die sogenaamde lae adel, het wel meer aansien as ander gehad.
Op Tahiti was dit byvoorbeeld die raatira, die kleingrondbesitters, en op die Tonga-eilande die matapule, die laer bestuursamptenare. Bepaalde beroepe het aan die beoefenaars daarvan ook meer aansien gegee as ander beroepe, soos byvoorbeeld die kanobouers, die huisbouers of bekwame krygsmanne. Die res van die bevolking het meestal bestaan uit tuinbouers en vissers. Hulle het in ruil vir grond in bruikleen gereeld voedsel aan hulle leenheer verskaf en ook ander dienste gelewer.
In werklikheid was dit 'n soort pag- en belastingstelsel. Hulle was ook verplig om op bepaalde tye goedere, meestal voedsel, aan die vors te lewer, in tye van oorlog saam met hom te veg, en, indien nodig, vir die vors allerlei werk te verrig. So is daar op Tahiti in die loop van die eeue tientalle tempels (marae) gebou. op die Tonga-eilande groot grafmonumente van koraalkalk en op die Hawaii-eilande landbouterrasse.
Daaglikse lewe
[wysig | wysig bron]Afgesien van hierdie verpligtinge het die lewe van die gemiddelde Polinesiër rustig verloop. Daar was voedsel in oorvloed, die klimaat was gunstig en die werk in die tuine of die vissery is afgewissel met feeste waarin sang en dans 'n belangrike rol gespeel het. Hoewel baie Westerlinge wat die eilande besoek het hierdie feeste dikwels as onbehoorlik beskou het, was dit vir die eilandbewoners normaal. Die eilandbewoners het, in terme van Westerse maatstawwe, 'n baie vrydenkende benadering tot voorhuwelikse omgang en buite-egtelike kinders is niks vreemds nie.
’n Meisie wat reeds 'n kind het, is eintlik 'n gesogte eggenote omdat sy reeds haar vrugbaarheid bewys het. Daar is ook maklik afstand gedoen van kinders. Kinders is uitgeruil of aan vriende gegee, en die meeste Polinesiërs was ook altyd bereid om kinders aan te neem. Die tradisionele kleredrag op die eilande was van geklopte boombas, die sogenaamde tapa, gemaak. Die klere is deur die vroue gemaak en die grondstof was die bas van die papiermoerbeiboom, wat spesiaal vir hierdie doel gekweek is.
Om die bas te bekom, is die boom afgekap en die bas afgetrek. Na 'n paar weke in die water het die skors losgegaan en die repe bas is met houthamers geklop totdat dit sag en dun was. Hierdie stukke is dan met ander stroke bas vergroot en verstewig en dan beskilder. Vandag word daar nog op baie eilande tapa gemaak, wat veral gebruik word as bruilofs- en begrafnisgeskenke.
Mikronesië
[wysig | wysig bron]Die meeste eilande wat tot Mikronesië behoort, is atolle met net 'n paar honderd bewoners. Die bevolking leef meestal uit die natuur, maar vandag word die voorrade soms met ingemaakte voedsel wat ingevoer is, aangevul. Westerse gebruiksartikels word ook ingevoer. Die belangrikste plant is die kokospalm (Cocos nucifera), wat byna alles lewer wat die mens nodig het. Die kiemwit van die neute word geëet of gedroog en as kopra verkoop, die sap (kokosmelk) word gedrink, van die vesels word garing en tou gemaak, en die groot blare word gebruik vir die dekking van huise.
Die stam van die boom lewer die hout vir gebruiksvoorwerpe, huise en bote. Die doppe van die neute word as kommetjies, skottels of lampies gebruik, en soms ook as ratels om haaie mee af te skrik. Van die blare van skroefpalms (familie Pandanaceae) word rokke gemaak, die vrugte word geëet en die hout en die vesels word ook gebruik. Die verbouing van taro (Colocasia esculenta), 'n knolgewas wat soos 'n aartappel lyk is ’n moeisame proses op die atolle.
Taro is afhanklik van baie varswater, wat skaars is op die lae eilande. Om die probleem te oorbrug, word diep groewe in die grond (tarogate) gegrawe totdat die (brak) grondwater bereik is. Die knolle word dan in 'n mandjie wat met grand en blare (groenbemesting) gevul is, in die brakwater geplaas, waar hulle mettertyd ryp word en 'n redelike oes lewer. Die plantaardige dieet word aangevul met vis. Die vroue en kinders soek in die riwwe en die vlak lagunewater na vis en skaaldiere, terwyl die mans en seuns, toegerus met nette, visstokke en spiese, met hul kano's in die see gaan visvang.
Gewoonlik woon die atolbewoners saam in klein dorpies. Die reghoekige huise is ruim en lugtig. Die raam word van kokospalmtakke gemaak, die dak bestaan uit 'n dik laag palmblare (sonwerend), en die mure bestaan uit vlegwerk wat so gemaak word dat dit opgerol kan word. Die wind kan dan deur die huis waai sodat dit altyd koel is. Vandag word sinkplate dikwels gebruik, maar hulle is nie eintlik vir die klimaat geskik nie; hulle roes gou en hou die hitte van die son nie uit die huis nie.
Net soos ingemaakte voedsel, huishoudelike metaalgereedskap en tabak word hierdie sinkplate gekoop van die Blanke of die Chinese koprahandelaars. Ten einde voldoende kopra te kan produseer om die ingevoerde goedere te kan bekostig, word kokospalms oral op die atol aangeplant.
Die samelewing
[wysig | wysig bron]Grondbesit is op familiereg gebaseer en alle lede van die familie het die reg om van die gemeenskaplike besit gebruik te maak. In die praktyk is hierdie reg egter beperk tot lede van die familie wat op die eiland woon. Hierdie stelsel skep egter 'n probleem ten opsigte van 'n jong egpaar. Wanneer 'n jong man wil trou, moet hy sy bruid buite sy familie gaan soek. In hierdie klein eilandsamelewings is almal omtrent verwant en hy moet dus wegtrek en probeer om op 'n ander eiland ’n vrou te vind. Hierin slaag hy gewoonlik, maar wanneer hy wegtrek en hom 'n geruime tyd elders gaan vestig, verloor hy sy reg op 'n stukkie van die (skaars) grond.
Hy moet dus probeer om op sy "tuiseiland" bekend te bly, sodat sy reg bewaar word. So nie probeer hy, dikwels met behulp van sy skoonfamilie, elders grond verwerf. Hierdie situasie bring mee dat die eilandbewoners gewoonlik baie goed op die hoogte is van hul stamboom en hul familie, omdat dit aanspraak op grond beteken. Daar is ook 'n ander rede waarom die stamboom en familie belangrik is. Nie al die atolbewoners is gelyk nie; sommige het meer aansien as ander en die aansien word erflik bepaal.
So het 'n oudste seun byvoorbeeld meer aansien as die jongste en die oudste seun van ’n oudste seun het weer meer aansien as sy broers of neefs. In werklikheid het elkeen dus 'n eie "rang". Op sommige eilande het hierdie stelsel daartoe gelei dat so 'n oudste seun van 'n oudste seun, ensovoorts, op grond van sy afstamming 'n hoofman met baie mag geword het. Op ander eilande word hy daarenteen weer net 'n soort voorsitter van 'n raad van oudstes.
Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het daar geleidelik veranderinge in hierdie sosiale stelsel gekom. Die meeste Mikronesiese eilande word tans deur die Verenigde State bestuur, wat baie gedoen het om die onderwys en gesondheidsorg te verbeter. Die meeste kinders ontvang tans onderrig. Op 'n paar meer sentraal geleë eilande is middelbare skole tot stand gebring en hulle word goed bygewoon. Geskoolde jongmense het in baie gevalle inspraak gekry in die bestuur van die eilande, maar ’n probleem wat van wee die nuwe situasie ontstaan het, is dat daar vir die meeste skoolverlaters geen werk op die eilande is nie. Baie van hulle het daarom na die bestuursentra getrek of geëmigreer na gebiede waar hulle hul opleiding wel kan gebruik.
Melanesië
[wysig | wysig bron]Van die drie hoofgroepe toon Melanesië verreweg die grootste verskeidenheid ten opsigte van tale, sedes en gewoontes. Op Nieu-Guinee alleen word meer as 700 tale, wat tradisioneel beskryf word as die Papoea-tale, gepraat. Die ander tale van Melanesië word saam met dié van Polinesië, Mikronesië en Indonesië tot die Austronesiese tale gereken. Die bestaansmiddele op die Melanesiese eilande toon 'n groot ooreenkoms met dié elders in Oseanië.
Die belangrikste voedselgewasse is, naas die kokosneut, taro, jam en broodvrugte. Al drie hierdie gewasse kom in tallose plaaslike variëteite ten opsigte van grootte en smaak voor. Minder verspreid is die piesang en die verskillende soorte sagopalms, wat veral op Nieu-Guinee voorkom. Om die sago te berei, moet die boom afgekap en die stam gekloof word. Die murg van die stam lewer die sago. Die plantaardige dieet word aangevul met varkvleis.
Langs die kus word ook vis gevang. Op die groter eilande word daar ook baie gejag. Hoewel die groot verskille ten opsigte van tale en kulture dit moeilik maak om te veralgemeen, kan daar amper oral 'n onderskeid gemaak word tussen die bewoners aan die kus en die in die binneland. Die kusbewoners het meestal meer kontak met mekaar en ook 'n meer gevarieerde dieet. Die binnelanders het oor die algemeen 'n meer primitiewe leefwyse en leef ook meer geïsoleerd.
Daar is 'n paar merkbare verskille tussen Melanesië en Polinesië. Die Melanesiërs byvoorbeeld stel meer belang in materiële dinge soos die bekomming van rykdomme en prestige as die Polinesiërs. Die Melanesiese maatskappye het in teenstelling met die Polinesiese kulture ook 'n meer demokratiese karakter. Nêrens anders word daar so 'n onbuigsame sosiale struktuur aangetref as by die Polinesiërs nie. Hoewel sowel die Melanesiërs as die Polinesiërs magtige gode het, speel die gode geen rol in die daaglikse lewe van die Melanesiërs nie.
By hulle vervul die voorvadergeeste 'n veel belangriker funksie. In Polinesië word nie net die gode in ’n uitgebreide ritueel aanbid nie, maar bepaalde groepe mense word ook gesien as direkte of indirekte afstammelinge van gode. Hul uitgebreide voorregte word deur ’n stelsel van gebods- en verbodsbepalings beskerm. Wat die materiële kultuur betref, is daar die verskil dat die kuns en ambagswerk in Melanesië in beginsel vir elkeen beskikbaar is, terwyl die fraaiste en die beste ambagswerk net vir die boonste laag van die Polinesiese samelewing bestem is. Oor die algemeen is die Melanesiese kultuur op materiële gebied minder ontwikkel as dié van Polinesië.
Dobu
[wysig | wysig bron]Die Dobu bewoon 'n klein eilandjie in die Massim-groep suidoos van Nieu-Guinee. Dit is ’n bergagtige eiland wat min moontlikhede vir landbou bied, en die belangrikste gewas is die jam. Die Dobu woon verspreid in klein gehuggies. Hulle het 'n uitgebreide stelsel van gebede, spreuke en besweringe ontwikkel – dikwels aangedui met die term magie – om hulle bestaan te verseker. Die een wat oor die sterkste spreuke en besweringe beskik, het volgens hulle die grootste kans op sukses.
Hierdie opvatting het daartoe gelei dat iemand wat nie veel sukses behaal het nie, glo dat iemand anders towerkuns teen hom gebruik. Die samelewing word dus oorheers deur agterdog en afguns. Hierdie benadering het ook ’n invloed op die familielewe. Gewoonlik kom die man en vrou uit verskillende dorpe en hulle woon afwisselend vir 'n jaar in mekaar se dorp. By die Dobu erf die vrou alles, en 'n kind vind dat wanneer die familie die jaar in sy vader se dorp woon, hy geen aanspraak kan maak op grond of besittings nie. Alles wat die vader besit, behoort in werklikheid aan die familie van sy moeder. Gedurende die jaar in die moeder se dorp is die situasie vir die kind heeltemal anders.
Hier behoort die kind tot die groep van grondbesitters. Die vader is hier net ’n "vreemdeling", wat die talle reëls en voorskrifte ten opsigte van die "besitters" in ag moet neem. Situasies soos die, gekombineer met die reeds genoemde oorheersende agterdog en jaloesie, bring mee dat die lewe van 'n Dobu in voortdurende spanning verloop. Die verskillende eilande in die Massimgebied het deur die eeue kontak met mekaar behou deur middel van 'n ingewikkelde seremoniële handelstelsel, die kula. Volgens die stelsel word armbande vir halssnoere geruil, maar hierdie voorwerpe word selde as versierings gedra omdat hulle voortdurend weerverruil word.
Terwyl een groep voorwerpe regsom in ’n denkbeeldige sirkel stuur, stuur die ander groep voorwerpe linksom. Die ruilvennote bou op die manier al ruilend en manipulerend 'n hele netwerk van betrekkinge op waarbinne hulle nie net die seremoniële sierade ruil nie, maar ook kano's vol kos en gebruiksvoorwerpe. 'n Deelnemer aan hierdie stelsel kan nie weier om bepaalde sierade te ruil nie. In so 'n geval word daar soveel morele druk deur die ander deelnemers op hom uitgeoefen dat hy uiteindelik moet toegee. Onder Westerse invloed het die kula van sy betekenis verloor, hoewel daar nog ekspedisies onderneem word om elders begeerde sierade te bekom.
Siuai
[wysig | wysig bron]Die Siuai in die suidweste van Bougainville, een van die Salomonseilande, woon op 'n vlakte tussen die berge en die kusmoerasse en verbou daar taro, piesangs en kokospalms. Varkboerdery word nog rondom die dorpies gedryf. Hulle vul hulle dieet aan deur te jag en vis te vang. Die lewe van die Siuai is taamlik eentonig en bestaan hoof saaklik uit plant, skoffel en oes. Hoewel de Siuai nog towerkuns beoefen, het dit 'n ander betekenis as by die Dobu.
Dieselfde geld vir familieverhoudinge. Hoewel afstamming ook hier matrilineêr erflik is, lei dit nie tot spanninge nie. Die erfreg kan selfs "gekoop" word. Die kultuur van die Siuai word gekenmerk deur die wyse waarop die leierskap van 'n groep of stam bepaal word. Leierskap kan nie geërf word nie, en wanneer ’n ambisieuse man die posisie van mumi of leier wil hê, moet hy bereid wees om daarvoor te werk. Eers moet hy grand besit. Dit kan hy bekom deur groter tuine aan te hê en te bewerk, van vriende of familie te leen, of deur varke te teel en te verkoop. Wanneer hy dan genoeg materiële goedere verwerf het, begin die moeisame taak om dit weer so strategies moontlik uit te deel deur feeste te hou.
Om dit te kan doen, moet hy egter eers ’n vergaderplek bou, en die eerste groot fees word gehou wanneer die gebou voltooi is. Die moontlike leier probeer om soveel mense moontlik oor te haal om hom te help bou. Tydens die bouery voorsien hy hulle rojaal van voedsel, en as die huis uiteindelik klaar is, word die inwydingsfees gehou. Dit is die begin van sy proses om meer aansien en invloed te verwerf en hy moet voortgaan om aktiwiteite en feeste te organiseer.
Geleidelik plaas hy die mense wat die feeste bywoon, onder 'n verpligting teenoor hom. Die wat die beste hierin slaag, word as 'n groot leier beskou. Deur middel van sy rykdom en geskenke bind hy die mense aan hom en is hy voortdurend besig om sy netwerk uit te brei en te verstewig. Solank al les goed gaan, is almal bereid om hom te steun, maar as hy sy hulpmiddele te gou uitput, verswak sy posisie vinnig.
Sien ook
[wysig | wysig bron]Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (en) "Oceania". 2005. The Columbia Encyclopedia, 6th ed. Columbia University Press.
- ↑ (en) USCensusBureau:Countries and Areas Ranked by Population: 2009 Geargiveer 6 Mei 2009 op Wayback Machine
- ↑ (en) "Coral reefs around the world".
- ↑ (en) Chambers, Geoff (2013). "Genetics and the Origins of the Polynesians". John Wiley & Sons, Inc. doi:10.1002/9780470015902.a0020808.pub2
Bronne
[wysig | wysig bron]- Kennis, 1980, ISBN 0-7981-0825-8, volume 3, bl. 511
- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0-908409-63-X, volume 22, bl. 18
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Oseanië.
- (en) "Oceania". Encyclopædia Britannica. Besoek op 20 Mei 2019.